Leestekens:
FOK die weerloosheid! Fok, die weerloosheid. Fok dié weerloosheid. Fok die. Weerloosheid.
Die suurstofbotteltjie gorrel soos die pompie van ‘n akwarium in iemand se sitkamer. Pa ruk die ding can sy neus af. Hy haat goeters aan sy lyf. Sy asem is vlak en hortend, sy mond oop soos een van die vissies in die akwarium. Die personeel loop in en uit en heen en weer asof hulle in die Kaapse akwarium visse en seediere kyk – groet nie, knik nie, staar net na ons wat vasgevang is agter glas met suurstof wat borrel. Ons swem om en om en om in emosies wat eb en vloei. Daar is nie seewier om in weg te kruip nie. Hier moet jy swem. Hang jy net in die water dink iemand dalk jy is dood en bespring jou met ‘n masjien.
Op dag vier takel ek die hoofsuster. Vir vyf minute (dalk is dit tien, dalk drie) staan ek en kyk hoe hulle met mekaar kwetter oor ‘n dokter wat onredelik is. “Ek het hom gesê..” en “toe het hy gesê..”. Ek staan. Wag my beurt af. Dalk is ek een van daai deurskynende visse wat mens moeilik raaksien. Dalk het hulle nie peri rale visie nie. Ek staan. Hulle kwetter. Toe sy klaar is stap sy kantoor toe, verby meneer deurskynend. Ek haal diep asem. Ek Deepak Chopra diep asemteue en “aum” dat my borsbeen vibreer.
Die spraakterapeut gaan vra die hoofsuster of sy my sal sien. Ek sien hoe hulle praat, hoe die terapeut moet oortuig en oorwin. Hoofsuster kom uit en sê ek moet sit.
Die kantoor is nie ingerig vir mense sien en gesels nie. ‘n Plêstiekstoel, swart en ongemaklik om seker te maak niemand wil lank sit nie word aangebied. “Suster, my Pa het ‘n Advanced Directive”. As ek haar gesê het ek het nou net die Coronavirus in die sentrale suurstofsisteem ingepomp sou haar afgryse minder sigbaar wees. Die koorsblaar op haar onderlip bewe effens. Ek kry die preek, goed ge-rehearse, van die eed van verpleging. Ek kan nie help om te vra of die eed van verpleging nie ook insluit:
As besoekers in die saal instap, moet mens hulle groet. Jy praat nie kliphard van ‘n pasiënt in die ontvangsarea waar almal dit kan hoor nie. Jy hou pasiënte se familie op hoogte van wat aangaan met die pasiënt. As iemand die hele dag by ‘n pasiënt sit en die kof etrollie kom verby, offer hom iets om te drink.
Die lys hou aan. Niemand kyk op nie, niemand bied enige inligting aan nie, almal vergaap hulle net aan die visse in die akwarium…
So lê my Pa nou vier dae na sy beroerte. Die dokter sê ons gaan niks doen om sy lewe te verleng nie. Geen kos of water nie, in elk geval nie voordat daar nie ‘n arbeidsterapeut, sioterapeut, spraakterapeut by hom was nie. Gisteraand vertel die Suster dat my Pa ge-eet het. Sommer self met ‘n lepel. Klaarblyklik gebeur wonderwerke as ons nie daar is nie.
Die oom langs my Pa het ook beroerte gehad. Twee dae lank word sy kos neergesit op die bedtafeltjie. En so kom die volgende een dit, onaangeraak. Kof e word geskink en weggevat. Die dokter (‘n ander een) kom vervaard in met een van die Susters. “My pasiënt is kurk droog! Kurk, kurk, kurkdrook!” Suster begin verduidelik van hoeveel hy eet en vloeistof hulle hom gegee het. Dokter kyk in die lêer. “125ml die hele dag, geen wonder nie!” Ek sit agter die gordyn en wonder of ek vir die dokter moet sê “SY LIEG DOKTER!”.
Middagete kom sit hulle weer die bord kos neer. Teetyd skink hulle ‘n koppie kof e en sit dit langs die kos neer. Half vier begin die Oom roep en roep. Ek loer om die gordyn. Hy beduie, ek verstaan niks maar sê ek sal iemand roep. Ek vra (ondervra) die Stafcerpleegster. “Nee meneer, dokter het hom ‘n drip ingesit”. Ek sê “nee staf, daai oom het nie ‘n drip van ‘n dag oud in nie”. Sy gaan kyk. Sy sien. Ek sê “wat van jy voer hom sy kos?”. Sleepvoet staan sy nader. Die oom word gevoer. Sy lippe klapmvan lekker. Eers die poeding. Dan die mash. Dan weer poeding. Dan kof e. Hy kla dat die kos koud is skielik in ‘n vol sin…
So weet ons nog nie veel meer op dag vier nie. Dokter sê doen niks. Suster sê haar eed sê voer hom en gee hom water. Terapeute sê hy kan nie sluk nie. Die res vee en stof af en neem bloeddruk en skryf. En skryf. En skryf. En skryf nog meer.
Die spraakterapeut kom weer. Sy vra uit oor my Pa se vorige beroerte en hartversaking. Herinner my dat hy 84 is… Ek besef weer (al weet ek dit voor my siel uit jare se ervaring) dat my Pa “die 84 jarige beroerte in Saal 4” is. ‘n Ou man. Afgeskryf. Verby die “sell by date”. Ek neem haar na die foto wat ons bo sy bed gesit het, die een met Pa by sy bike. Donderdag het nog op Barrydale gaan eet met sy bike. My Pa is kser as ek op 54. Sy probeer met ys hom kry om te sluk. Hy kan nie. Hy kan nie sy tong beweeg nie. Hy haal baie swaar asem. “Voer hom!” sê die Suster. Dis ons eed.
Ek voel hoe die spraakterapeut voor my oë verander. Skielik sien sy my Pa vir die sterk man wat hy is. Of was tot Vrydag nag. Sy sien my. Sien sien vir Buks en Tippie en Sushi op die fotos – my Pa se diere wat hopelik wagstaan aan die ander kant vir hulle Oubaas om te kom. En skielik is daar deernis. Sagtheid. Skielik voel ek minder weerloos.
FOK. DIE. WEER. LOOS. HEID.