Ek het ophou skryf oor my Ma omdat sy so gelukkig was in die Ouetehuis. Haar kamer was die eerste een op links by die voordeur. Lig, sonnig. Almal wat by die voordeur ingekom het kon sy sien – baie het gou kom inloer by Tannie Ann. Matrone. Vroedvrou. Ambulansbestuurder. Ma. Matriarg.
Toe my suster Antonette my verlede Maandagoggend voordag bel weet ek. Ma is Sondagaand hospitaal toe geneem op Mosselbaai. Ek spring uit die bed, pak my toiletsak en ‘n paar stukke klere. Moet ek ‘n baadjie saamvat? Wat as… Ek pak my beste baadjie en kerkskoene in, net vir ingeval. Ek het nie geweet my VW ry so maklik 180km/h nie. Toe ek verby Alberinia ry bel ‘n Suster Pumi my uit die hospitaal – “your mother is very weak, how long will you be?” Ek sê “ek kom, hang aan Ma!” Ek ry nog vinniger. ‘n Paar minute later – al voel dit soos ure – hardloop ek in die hospitaalgang af, ICU toe. Die skuifdeur gaan oop. Ma lê in presies dieselfde bed as wat my Pa in 2020 gelê het net voordat hy dood is. Die ironie.
Die dierbaarste Suster Pumi maak die gordyne toe dat ek in privaatheid my lelike huil kan huil. Daar is ‘n pyp in my Ma se keel wat met ‘n pleister – hopeloos te styf na my sin – oor Ma se mond vasgeplak is. Ai, ek sou so graag dat Ma nie hospitaal toe moes kom vir haar laaste ure nie. Die dokter probeer verduidelik – ek stop hom by die tweede sin. “My Ma het ‘n ‘advanced directive'”. Hy hoor en verstaan. Minute later sê die masjiene daar is nou nie meer lewe oor nie. Ons sit dit af en Ma is weg. Ek sit by haar, wag dat hulle die pype uithaal. Ek vra vir Suster Pumi om Ma se valstande in te sit. Ons moet dit eers soek – af Ongevalle toe. Nee dis nie daar nie. Ons kry dit in haar tas. Suste Pumi sê in ‘n sagte stem: “Mrs. Stroebel, I’m sorry, I just want to put your teeth in.” Ek staan en kyk oor die baai en huil snotterend. Ek vryf haar witgrys hare mooi reg, hou haar hand vas wat klaar koud is. Antonette kom minute later aan – Ma lyk mooi. Ek sukkel om haar ringe af te haal.
Ons groet. Verslae. Dit was te vinnig. Ai, het ek haar maar Sondag gebel….
All I ever witness through your writing is the deep love and respect you had for each other as a family. May you and Antionette get to the place where you can once again celebrate her without the tears. My sincere condolences to you both.
Ai, Rayne, soos jy sê – dit was te vinnig! Hoekom het hulle jou nie Sondagaand al gebel nie! Al die vrae wat mens teister ,…
Groot drukke my mater!
Ai Rayne … die hartseerste hartseer! Sterkte!