Skip to content

Haar stoel is leeg

Nou is Ma se stoel leeg. Ek lê op die bank soos altyd, die kaggel brand. Die wind waai. Ma sê my nie aan om nog hout op die vuur te sit of die stoel langs die kaggel weg te trek nie. Of om die ding op sy regte plek te sit nie. Of vra dat ek vir ons tee maak nie. Vir die eerste keer is ek alleen in die huis. Ma se as staan op die sideboard. Hou waak oor alles. Kyk dat ons nie te veel water tap nie. Sit nog hout op die vuur. Sit daai ding waar hy hoort. Watse blou liggie brand daar buite? Daar hang ‘n doodse stilte oor die huis, al ruk die wind aan die dakplate. Ma se stoel is leeg. Ek pak die doilies weg. Ma se masjienkas met honderde breipenne en lappies en wol en patrone en naaimasjien. Elke keer maak ek hom oop om goed uit te gooi…net om hom weer nethies toe te maak. Al Ma se skêre – moenie met daai skêr nie, dis my lapskêr. Bokse en bokse vol plastieksakke wat in netjiese driehoekies opgevou is. Duisende decoupage servette. Nog teëltjies van die mosaïk dae. En al die honderde begrafnisbriefies wat Ma oor baie jare gebêre het. Ons het joune langwerpig gemaak, anders as die gewone. Jy sou nie daarvan gehou het nie – jy wou inpas. Maar jy was nooit soos die ander Ma’s nie. Jy was die distrik suster en die vroedvrou, die ambulansbestuurder en die matrone. En nou is jou stoel leeg…
Rayne Stroebel PhD (Dementia Studies)
+27 82 455 5300 Rayne.Stroebel@mindsmatter.co.za www.mindsmatter.co.za

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *