Skip to content

Eerste kuier in die nuwejaar.

Vroeg Sondagoggend op die stoep. Ma se swaeltjies sweef en duik in die vroegoggend windjie. Hulle wonder seker wat van Ma geword het, want daar is nou nie meer waterdammetjies om modder mee aan te maak nie. Ma het tog so getrou vir hulle dammetjies water gemaak…en later moes Pa dit teen sy sin doen. En kaas vir die Kwikkies, veral die een sonder ‘n voetjie wat baie voorbarig aan die kombuisvenster kom kap het met sy bekkie dat Ma moet oopmaak en kaas gee. Fyn gerasperde kaas wat in ‘n Tupperware bakkie in die yskas gehou word. En saadjies in die agterplaas vir die ander voëls. Maar Ma moes altyd baklei met die Janfrederik wat baie onbeskof die kleiner voëltjies kom wegjaag het. So het Ma hom gedreig dat Ma hom gaan vang en Riversdal toe gaan vat in die kar en hom daar aflaai.

Die kroes duif sit nog steeds op die skoorsteen langs die sattelietskottel op die ouman se dak. Daar waar die blou liggie saans brand wat Ma so oor gewonder het. Ek wonder of hy dalk siek is. Sit met gepofte vere, doodstil. Reën of sonskyn. Ek kry hom jammer. Dalk is sy Ma ook dood.

Die laai met al Ma se vadoeke steek vas. Ek probeer hom wyd oopmaak maar iewers steek iets vas. Ek besluit dis seker tyd om die laai uit te pak – een van die weinige wat Antonette nog nie beetgehad het nie. Jirre Ma, hoeveel vadoeke en vatlappe en doilies en teacosies en nette het mens nodig? Dis oor die laai so vol is dat die goed agter in vassteek en mens die ding nie kan oopkry nie. Ek pak alles uit – die hele eetkamer tafel lê vol herinneringe. Natuurlik is die oorgrote meerderheid nooit gebruik nie – wit vaddoeke (“los daai vaddoek ek gaan hom nooit weer wit kry met dié bruin water nie!”) met geborduurde katjies en vatlappe met geborduurde katjies, hope! En daai nette wat die mense langs die strate verkoop wat styfspan en regop staan bo-oor mens se kos wat Ma gebruik het Sondae om oor die boudvleis en die heel hoender te sit as dit uit die oond uit kom, want Ma het altyd so gekeer vir die brommers. (Ek onthou toe Ma eenkeer saam met die ander vrouens by die golfklub moes toebroodjies maak vir die mans in die dae voor Ma self begin golf speel het. Iemand het ‘n heel hoender gebring vir hoendertoebroodjies. Toe Ma die hoender oopsny is daar ‘n lekker vet gaargekookte brommer in die hoender se maag. Ai en Ma kon tog so lekker gril vir goed soos brommers en wurms. Ma het nooit geskroom om die tuinwurms middeldeur te knip met die snoeiskêr nie. En vir jare agterna het Ma die storie vertel van die vreeslike grênd vrou wie se hoender ‘n brommer in gehad het.) Elk geval, ek het die laai uitgepak. Ek het die beste goed weer teruggesit en klomp goed uitgegooi, sorry Ma maar mens kry nie die laai oop nie en helfte van daai goed kan maar gaan. Ek het ook op vyf klein messies met gekleurde hewwe afgekom wat Ma duidelik daar weggesteek het onder al die vaddoeke en lappe dat ons dit nie moet kry en gebruik nie. Sorry Ma, ek het dit maar in die gebruikslaai gesit. Ek weet Ma het dit gebêre om bone mee te kerf, maar ek kan Ma verseker niemand gaan weer bone kerf in hierdie huis nie.

En daar tussen al die onthougoeters is Ma se voorskoot. Hy is dun gewas, effe gebleik op die borsstuk. Ek sien Ma in die kombuis staan, potte wat stoom en prut vir Sondag se skaapboud en frikadelle (die lekkerste ooit op aarde) en ‘n heel gaar hoender met ‘n ui in sy hol (seker om die brommers uit te hou). En soetpatats en daai groenbone wat Ma met Ma se skerp messie self gekerf het en in plastieksakkies in die vrieskas gebêre het net vir Sondae. En die crispy braaiaartappels wat ek by Ma geleer het om te maak…Ma het altyd die aartappels sag gekook, die water afgegooi en vir ‘n tydjie laat staan dat al die water verdamp. Dan het Ma die kookolie net so in die pot gegooi oor die warm aartappels en die spulletjie weer laat kook tot die olie saggies borrel. Die geheim was om nie te roer aan daai aartappels nie – jy los hulle net so tot hulle goudbruin is. Dan op handdoekrol in die Corningware bak om die ergste olie op te vang en baie sout. Sjoe! Of groenboontjiebredie met dunrib in die winter. O ja met baie witpeper. En appelkooskonfyt in die groot ronde konfytpot wat ek sien nog steeds diep onder die sink staan. En die jaarlikse uittog na Swellendam om brame te gaan haal vir braamkonfyt. Niemand het gekuier ooit en sonder ‘n potjie braamfonkyt huistoe gegaan nie. Ek vou maar die ou voorskootjie op en sit hom weer terug in die laai.

Ek slaap nou in die hoofslaapkamer in Ma se bed. Ja dit voel baie vreemd, amper té intiem. Elizabeth het Ma se bed opgemaak met die wit stel beddegoed met die candlewick geborduurde lavender daarop. Ek moes die kussing omdraai want die borduurwerk op mens se gesig is nie so lekker nie. Daai stel is seker al dertig jaar oud – maar nog steeds spierwit en die borduurwerk perfek. Ma het geweet hoe om goed op te pas. Nooit enige iemand toegelaat om die wasmasjien te gebruik nie, net Ma het Ma se wasgoed gewas. Huishulpe mag gestryk het, maar die Vader behoede as dit nie was soos Ma geleer het nie. Ma het altyd vertel hoe julle pak gekry het op Huishoudskool in Knysna as julle nie behoorlik gewas of gestywe het nie. Gendaglik het Ma nie meer die linne gestywe soos Ouma Lenie nie. Ek onthou hoe mens jou voete moes platmaak soos ‘n ballerina s’n as jy die eerste aand by Ouma Lenie in Hankey in die bed klim – daai Irish linen was só gestywe. En dit het altyd na motbolle geruik. (Ek onthou op laerskool was Ryno een Maandag nie in die skool nie, hy het per ongeluk die motbolle vir pepermente aangesien en dit ge-eet… Hy was darem Dinsdag weer daar perdfris en gesond.)

Ma sou lekker gelag het as Ma gister Marthy se twee honde gesien het, die Skotties. Hulle het wragtag life jackets aan! Marthy sê die een hond het amper verdrink in die plaasdam, toe besluit Human om vir hulle life jackets te koop. Nou swem hulle heerlik in die rivier sonder om te sink. Hulle het ook mos koddige lywe, soos die worshonde. Dié twee gaan tekere op die sandduine asof dit hulle eerste keer is! Frummel het oor Kersfees só gate gegraaf in die sand dat sy regtervoetjie stukkend was. Veearts en salf en een of ander rooi goed waarin die voetjie geweek moes word. Nie dat dit hom afgesit het om dié naweek weer gate te graaf dat hy heeltemal verdwyn in die gat wat hy graaf! Ek het hom gesê hy moet oppas of hy kom anderkant in Australië uit as hy nie ophou grawe nie. 

Die strand was verlede week oortrek van bloublasies, ek het nog nooit soveel gesien nie. Ek sal nooit vergeet my eerste ontmoeting met ‘n bloublasie nie, ek was seker drie of vier jaar oud. Ma het vinnig met my huistoe geloop en meat tenderiser op die haal gesit waar die blou sleepsel my gebrand het. Ek weet nie of dit regtig gewerk het nie, maar dit was die ding. Jis en Ma was lief vir Mercurochrome. Ek moes dit nou Google –  Merbromin is an organomercuric disodium salt compound used as a topical antiseptic for minor cuts and scrapes and as a biological dye. Readily available in most countries, it is no longer sold in Switzerland, Brazil, France, Iran, Germany, Denmark, or the United States due to its mercury content.Nou ja, die mercury het Ma duidelik nie van geweet of gepla nie. Dit het die lewendige hel uit jou uit gebrand, maar Ma het dit rojaal op enige wond toegedien, en ‘n harde klap as jy durfwaag huil oor die wond of die brand. Ma die nurse. En laat dit net lyk of jy bietjie af is kry jy Engelse Sout. Epsom Salt was Ma se ander gunsteling medisyne….magnesium sulfaat sê Google, gebruik vir baie soorte siektes. Jy het dan óf skittery gehad of jy het jou longe uit gekots. Lekker, al die gif uit nou kan ons weer kaiings met skaapvet op varsgebakte brood by Ant Martha eet. Ek het gehou van stroop bo-oor die kaiings, natuurlik. 

Nou ja Ma, ek gaan vandag weer terug Kaap toe. Dit was lekker om weer te kuier saam met al die herinneringe.

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *