Die eerste Kersfees sonder Ma. Ek wil vir Ma fotos stuur van die varing wat ek hier agter geplant het – dit groei geil in Ma se potte. En Ma se varkblomme blom – okerbruin. Ons maak die kaggel met kerspapier toe en ryg die liggies in soos Ma daarvan gehou het. Die hout takbokkies staan parmantig op die houtkissie waarin in Ma se as is. Antonette se voet is in ‘n maanskoen want sy het oor Sally geval, so ons kon nie Ma se as gaan strooi op die duin nie. Ma sal nie glo hoe hoog is die duin nie – en ja, die wind waai. Alles is onder sand. Gister was oostewind – daai een wat Ma se tupperware laat roes. Die bure is almal hier. Francois kom drink ‘n glas wyn – ons vang op op ‘n hele jaar se gesels. Ma sou gehou het van die bank wat ons op die stoep ingebou het – nou kan ek en Antonette en al die honde lê en kyk hoe die kinders op die duin speel. Ma se grocery kas is erg deurmekaar, Antonette wou hom nog regpak maar ons het nie daarby uitgekom nie. Ek het Ma se mat waaroor Ma so mal was nou maar hier in Ma se kamer gesit – daai mat moet ook in die nuwe jaar skoongemaak word. Die honde mis Ma se bederf en al die treats wat Ma altyd vir hulle aangehou het. Sally is verwese oud, net ‘n geraamtetjie met wolhare. Maar haar blaffie is nog net so skerp soos altyd – ás sy die slag iemand hoor by die voordeur blaf sy sommer so in die lug in. Die huis voel vreemd sonder Ma, maar Ma sal bly wees om te hoor ons doen alles soos Ma daarvan gehou het. Die wasbakke se proppe het nog steeds die ronde velt lappies onder sodat die water nie uitloop nie. Die afvalwater loop steeds in die blou tenk in om die plante mee nat te maak. Ons vee die sand voor die voordeur weg en los die kas in die waskamer se deur oop soos Ma altyd gesê het ons moet doen. En die vatlappie hou die skottelgoedwasser se deur effe oop sodat die ding lug kry. En die stoele se rugkante trek ons weg van die mure af dat dit nie merke maak nie. En ons trek die gordyne bo toe dat dit nie die stoele se ruglenings brand nie. En ons gebruik Netta se laslap coasters as ons vir die mense tee gee sodat die tafel nie vlek nie. En al die laaie in die huis is net soos Ma daarvan gehou het. En die die tupperware se deksels is nog steeds van groot tot klein gerangskik onder die sink, netjies. En die vadoeke is gejik en mooi wit. En moenie worry nie Ma ons gebruik nie die wit handdoeke nie want die water is weer liederlik bruin, ons gebruik net die donker handdoeke. En ek het vrugtekoek gebring – Ma sou daarvan hou want dis net vrugte. En ja ek sal die res in die deepfreeze sit vir later in die jaar as mens daarvoor lus kry. Kersfees is nie Kersfees sonder Ma nie…ons mis Ma vreeslik. O en amper vergeet ek – Netta is by haar kinders in Amerika. Nou voel die Kersfees nog vreemder. Maar Ma sal bly wees om te hoor sy het toe weer gaan kuier, al het sy gesê gaan nie weer nie.