28 Desember 2023
Ma wil nie weet hoe waai die wind vandag hier nie. Gelukkig kan mens op die voorstoep sit, want dis bedompig al waai die wind. Die kitesurfers hang en wapper – Ma sou hulle getel het. Maar hulle is nie lank genoeg op een plek dat mens hulle kan tel nie. Ma sou ook gewonder het oor die arme mense in die karavaan park…
Antonette-hulle is vanoggend weg. DIs toe dat ek Ma so erg mis. Ek wonder of ek weer vir arme Sally gaan sien – sy is regtig brandmaer. Sy gaan staan so op een plek doodstil dan wonder mens wat gaan deur haar gedagtes. Ek dink sy mis Ma net so baie. Antonette is ook nou regtig net soos Ma – toe ek gisteraand vir Sally kos gee word daar ewe vir my gesê ”sit dit op die matjie neer anders eet sy dit nie!”. Ek en Johan het net na mekaar gekyk en gelag. Nes Ma…asof Sally nou weet haar kos is lekkerder as die bakkie op die mat staan. Maar ons doen dit maar so, want ons het mos nooit Ma teëgegaan nie. Die huis is stil toe hulle weg is – Lulu is mal soos altyd. Haar stem is glad hees van blaf. Arme Frummel raak skoon verbouereerd as almal so op Lulu skree, hy gaan lê alleen in die tv kamer op Pa se stoel. Ek het net vanoggend vir Antonette gesê as hulle weer ’n hond kry moet hulle tog een kry wat mens maniere kan leer. ”Sê hy wie se honde heeldag in die huis pis!”. Sy’s natuurlik reg – een van hulle het net vanoggend weer teen Ma se stoel se poot gepie.
Gisteraand het ’jy-weet-wie’ weer dik gedrink hier deur die stoepreëling kom staan en nonsens praat. Seker weer alleen hier dat hy vroegaand al so getrek is. Ek het my maar skaars gemaak en binne op die bank gaan lê. Al die bure is hier. Vang vis, braai vleis, kuier. Die straat staan vol karre, maar Ma hoef nie te worry nie, ek het my kar so getrek dat die bure maklik kan verby.
Ma sal baie bly wees om te hoor dat ek bietjie tuin gemaak het. Ek het vir Lindie by die Skeerhok ontmoet vir koffie, sy is op pad Vleesbaai toe. Ek het daar by die winkel vir haar ’n rok vir Kersfees gekoop – vir my lyk sy tog te mooi in die rok. Dis so bont roeserig en pas mooi by haar kleur. Ma weet mos die roes en sproete kleur. Ek het dié kind tog so lief. Sy stuur groete vir Ma. En daar oorkant ons by ‘n ander tafel sit ‘n vrou wat vir my baie bekend lyk. Ek dink en dink. Later kom vra sy vir Lindie oor haar hond, Billy, en of hy ’n Schnauzer is. Ek herken haar stem en vra of sy Rachel Steyn is – Ma onthou Rachel wat orrel gespeel het in die kerk altyd. Sy val amper op haar rug toe ek vir haar sê wie ek is. En toe sy eers herstel is haar eerste woorde ”ek was vreeslik lief vir jou Ma’. Ek het nogal gewonder of sy op Ma se begrafnis die orrel gaan speel. Sy was seker weg. Die enetjie wat gespeel het was maar hak en tak. Niks pedale gebruik nie, en dis juis dít wat orrelklanke so mooi maak.
Gepraat van orrel. So is Tannie Bettie ook twee weke gelede dood. Ek ry nogal Sondag van Werda af (dis ’n lang storie vir ’n ander dag) Stilbaai toe om vir Tannie Bettie te gaan kuier. Ek kom so kwart oor elf by die ouetehuis aan. Die vrou by die ontvangs kyk my snaaks aan toe ek sê ek kom net gou by Tannie Bettie inloer – sy is net mooi kwart voor tien die oggend oorlede. My hart was stukkend, ek het tot anderkant Heidelberg nog gehuil oor my dierbare Tannie Bettie. En sleg gevoel oor ek haar nie op julle verjaardag die 30ste September gebel het nie. So is ek toe die Donderdag weer Stilbaai toe vir haar begrafnis. Plaas ek het aangebied om die orrel te speel – ek ken darem nou nog die songs wat sy my geleer vir Antonette se troue. Dis nou wel bietjie opgeruimd, maar sy sou nie omgee nie. Marietjie Burger het Tannie Annatjie begelei in “Amazing Grace” – dit was vreeslik mooi en weemoedig. EK het hoeka laas vir Tannie Annatjie nog in Tannie Bettie se woonstel gekry toe hulle ge-oefen het vir ’n konsert.
Kan Ma glo dat Antonette en Johan die 17de Desember 40 jaar getroud was? Wragtag. Ons het altyd gesê Ma en Pa verdien ’n medalje, maar ek dink hulle twee ook. Ek sal nooit daai troue vergeet nie. Ma wat amper die waiter ’n oorveeg gegee het oor ys in Ma se whiskey. En Ma se skoene wat hulle vergeet het in Somerset Wes toe moet Ma Jeanette se skoene dra wat twee sizes te klein is. En dit was die eerste keer wat ek lams tong ge-eet het, Jean het dit heerlik gemaak met ‘n mosterdous en klein ingelegde appelkosies. Daai dae was Ma nog vuur en vlam, nagte deur gewerk, vir niks geskrik nie. Ek en Antonette sê net anderdag vir mekaar dis hoe ons Ma wil onthou – die vrou vir wie niks ooit te veel moeite was nie, wat Sondae kook dat die kombuisvensters opstoom. Lekkerste frikadelle en gekrummelde varktjops. En papa janana gereg waaroor ons ons simpel gelag het – papaja nagegerg. Ma het altyd goed so verkeerd gelees – soos die keer by die roadhouse wat Ma vir Pa vra wat ’boneless’ (met ’n Afrikaanse uitspraak) op die spyskaart is. Dis toe al die tyd ”boneless fish” maar die boneless is bo geskryf en die vis onder. Ons het ons amper simpel gelag.
Onthou Ma die eerste keer toe ons clingwrap ontdek het saam met Tannie Ems in die drive-in op Riversdal. Sy het ’n hotdog gekry en so sit en eet ons in die donker met die pouse van die fliek. Na die tyd vra Ma vir Tannie Ems hoe was haar hotdog. Sy sê ”nee jirre jong dit was die taaiste hotdog wat ek nog in my lewe ge-eet het.” Toe besef ons sy het nie geweet van clingwrap nie – en het die hele ding met clingwrap en al op ge-eet. Ons het vir jare daarna nog daaroor gelag.
Ek was nog besig om te vertel van die tuinmaak. Die plan was om Impatience by die kwekery te gaan koop. Sjoe Ma sou die kwekery geniet het – die man het regtig ’n slag met steggies maak. Ek vra hom of hy Impatience het, want dit sal mooi hier agter op die stoep onder die skadu groei. Ek is nie so mal oor die Nieu Guinnea Impatience nie, al is hulle meer gehard. “Nee” sê die eienaar, ”die fokken goed fokken groei mos nie in my fokken tuin nie!” Ek moes lag – dink dadelik ja hulle is te sensitief seker om onder dié geswets te oorleef. Ek kry toe maar weer van daai mooi ding met die rooi blare – Coleus. (Ek moes dit nou google). Ek het mos verlede jaar ’n grote geplant maar hy het gevrek net na Ma se dood. Seker ook dood getreur. Maar dié wat ek nou gekry het is die variegated – sommer drie gekoop en dit onder die malva geplant. Ek het van die sandgrond uitgehaal en potting soil ingesit. Die arme malva sal seker ook dankbaar wees vir bietjie vars grond.
Ek besef nou ek het soveel gesels wat opgehoop het. Goed wat net ek en Ma oor gesels het wat ek nou met niemand kan gesels nie. Maar ek gaan nou eers ophou, ons gesels more weer.