Ma sal bly wees om te hoor ek het die snoeiskêr gekry – nie waar nie, op die klein pannekoek gasstofie wat voor die toonbank staan. Die Vader alleen sal weet hoe hy daarkom. Ek het die stofie uitgehaal want gisteraand wil die gas skielik nie werk nie. Ek en Timo (Markus se swaer) het ’n nuwe bottel opgekoppel, maar ek was seker die ander een was nog nie leeg nie. En toe met die nuwe een wil die stoof ook nie werk nie. Dis toe maar ’n goeie verskoning om te braai. Ai Ma sou die braaibroodjies geniet het wat ek gemaak het – net soos Ma daarvan hou. Ek onthou hoe Ma altyd gesê het net Tannie Maudie Beukes kon ’n broodjie oordentlik smeer met botter – van hoek tot kant. Tot vandag toe nog dink ek daaraan as ek broodjies maak. Baie botter, tot op die rante. En ek het hulle stadig gebraai sodat die kaas smelt en die uie en tamatie gaar is. Ek was spyt dat ek nie soos altyd vir my een ekstra gemaak het nie, dan het ek en Ma hom nou gedeel met ons koffie.
Dit bly vir my vreemd/lekker/hartseer hoeveel dinge wat ek doen my aan Ma laat dink. Seker ook hoekom dit so lekker is om hier in Witsand te wees waar alles in die huis nog steeds is soos Ma dit gemaak het. Dit help ook seker – of dalk nie – dat Ma se as nog op die sideboard staan nie. Maar dit was regtig te winderig om Ma se as te strooi. Ek sê vir Antonette as ons Ma se as in dié wind strooi eindig Ma in Mosselbaai op, en ons weet Ma was nie mal oor Mosselbaai nie. Nou staan Ma maar op die sideboard en hou ’n ogie oor ons doen en late. Ek het Ma se begrafnisbriefie ook staan gemaak by die houtkissie. Maar ek belowe sodra die wind bedaar het en ek en Antonette weer saam hier is sal ons Ma se as strooi. Die mense dink dalk ons is weird. (Hulle is natuurlik nie verkeerd nie.)
Ek hoop die dorp se band gaan vandag kom speel – dit lyk nie of die weer gaan opklaar nie. Dit het die hele nag gereën! Ek sal vir Thomas moet vra om te kom want hier is ’n lekplek in Pa se tv kamer – ek het die ou honde handdoeke voor die skuifdeur gepak, maar dit reën erg in daar. Ma sou sê ons moet dankbaar wees vir die reën, ”maar wat van die boere?”. Ek neem aan almal is klaar ge-oes en dat dit nou goed is vir die grond om so buitenstyd reën te kry. Ek sien op vuisboek Dirk van Papendorp plant nou mielies – dit staan nou al so kniehoogte. Ek weet nie of mielies van reën hou as hulle so hoog is nie, maar kan seker nie skade doen nie. Ma sal nie glo as Ma hom sien hoe hy nes sy Pa lyk nie – mens moet twee keer kyk want dis een dieselfde mens.
Dis nou half agt en daar beweeg nog nie ’n mens nie – doodstil met die water wat drup. Daar sit ’n kroes duif op die bure se dak. Hy sit al vir ’n paar dae daar. Ek moes gisteraand lag vir Timo toe ons hier buite sit en hy vra watse blou liggie brand daar op die bure se dak. Daai liggie het Ma mos vreeslik gepla – elke aand as ons hier buite sit wou Ma weet van die blou liggie, tot Johan later probeer verduidelik het op sy manier….maar die volgende aand wou Ma weer weet. Ek verstaan ook nie hoekom daar ‘n liggie moet brand by die sattelietskottel nie – Timo spot en sê seker om vir die vliegtuie te waarsku. Al die straat se mense is hier – van Marthy en Uysie en Rose-hulle tot by Martjie. Ons het haar nou die aand in Anchorage raakgeloop, sy sê sy mis Ma ook erg.
Dit het nou weer begin sous. Ek moet natuurlik weer pie opdroog in die huis want daai twee worse weier om buite te gaan pie as dit so reën. Met hulle lang lywe dink hulle hulle is buite as hulle kop by die deur uit is maar dan is die lang agterlyf nog steeds binne. Dis nou maar seker ‘n worshond ding. Ma was tog so vergewingsgesind teenoor die honde – hulle het met moord weggekom by Ma. Letterlik – onthou Ma die keer wat die kwikkie kom kaas haal het. Ek het Ma gewaarsku dat Pienat baie rats is, Ma het gesê nee wat hy is te oud om ’n voël te vang. Die voorbarige kwikkie het oral in die kombuis rondgeloop en toe net mooi een oggend sy heiland teëgekom toe Pienat hom met een hou morsdood byt. Dit was omtrent ’n paskawaal. Maar Ma was nie kwaad vir Pienat nie, gesê dis mos maar in ’n hond se natuur. Ek wou sy nek breek.
Ons diere het beter behandeling as mense gekry by Ma – Ma het altyd gesê dis al kleinkinders wat jy het. Nou ja, laat ek jou kleinkinders gaan kos gee.