Ma sou nou lekker gelag het vir die storie – so werk ek mos nou hier agter in Ma se tuin om dit bietjie mooi te maak vir die Kersfees. Ek onthou as kind hoe Ma ure en ure in die tuin gewerk het in Uysstraat, en die beker gewen het vir die mooiste tuin in die dorp. Tannie Calla Uys was burgemeester en sy het vir Ma die beker oorhandig. Een van Ma se grootste frustrasies was dat Ma knaend die snoeiskêr verlê het. Nou ja toe – nes Ma het ek gister in daardie klein agtertuintjie de snoeiskêr verlê. Lo and behold is die blêddie ding net nêrens. Ek het nou al agter elke plant gesoek, kry hom nie. Ek het die hele asdrom uitgepak, maar nee. Nou hang daar ’n stuk malva wat ek so graag wil afsny – ek sien hoe lekker lag Ma en sê ”wel hy moet iewers wees”.
Dit reën ’n regte Witsand reën vanoggend. So klam reën, mens sien nie eintlik druppels val nie maar dis nat en alles binne in die huis voel klam. Ek weet sommer Ma sou weer sê van die Tupperware wat roes in dié weer. En Ma sou kommentaar lewer oor die arme Transvalers in die karavaanpark. Iemand het juis gister op vuisboek gesê dis soos die uittog uit Egipte van karre op pad terug. Mense is seker lekker gatvol oor die water wat so bruin is ook. Hulle weet nie ons het daarmee groot geword nie, en dat daar eintlik niks mee fout is nie. Ma sou sê dis gesond sonder al die chloor en goed. Maar ai, mens se wit wasgoed…
Ek weet Ma sou wou hê ek moet na die jaarlikse vergadering in die rolbalsaal gaan, net oor Ma nuuskierig is. Maar vir dié klomp aanstellerige inkommers het ek tog nie lus nie. Ons wil mos hê Witsand moet klein bly soos dit nou is, so hoe meer redes dat hulle nie hier wil kom kuier nie hoe beter. En ek weet Ma sou sê ”jy’s net jou Pa”. Seker waar – ons is mos maar ‘n kombinasie van julle twee.
Gisteraand het ek vir die Duitsers fokkerellie gemaak soos Ouma altyd vir ons gemaak het. Al die oorskietvleis – die Vader weet Antonette het soveel vleis in die yskas gelos. Tong en gammon en braaitjops en jaartse wors. Oordadig. Daar was seker agt Tupperware bakkies met oorskiet vleis in. Om nie te praat van ’n berg aartappelslaai en brokkolislaai nie – wat nogal heel lekker was. Natuurlik gellings mayonnaise oor altwee, maar nou so ken ons mos my suster. Geil. Ek het soos Ma uie gebraai en al daai vleis fyn gesny, tamatie puree en ’n blik tamaties bygesit. Al wat ek anders as Ma gedoen het was om ’n goeie skeut rooiwyn by te sit. En klomp gedroogde kruie wat iemand hier gelos het. Ek is vies dat iemand Ma se groot roosmaryn bos uitgehaal het. Ek sal weer een bring en by die agterdeur plant. Dit was blykbaar ’n baie lekker sous want hulle het weggelê. Maar daar is nog steeds een Tupperware bakkie met oorskiet. Die drie honde het darem hulle kwota ook gekry – shame die arme goed kry mos nie meer vleis by my nie. Ja Ma, ek eet nog steeds nie vleis nie. En ja Ma, ek drink gereeld B12 aanvullings. Ag Ma, ook nie so gereeld nie, as dit my byval die dag doen ek. Maar ek is gesond, Ma hoef nie te worry nie.
DIe hele dorp is doodstil. So sou dit nou net ek en Ma gewees het wat op die stoep sit en skinder het. Ek onthou baie jare gelede wat Hetta hier by ons gekuier het. Na die tyd het sy gesê dis die eerste keer dat sy dit teëkom dat daar net oor ander mense gepraat word. Dit het my eers gepla, toe dink ek maar dis oor hulle in die stad groot geword het, en nie eintlik met baie mense soos ons nie. Ek onthou die laaste kere wat ek Ma in die ouetehuis kom haal het. Ma wou altyd net deur die dorp gaan ry het – en hoe ek elke huis kan onthou wie daar gewoon het, in die hele dorp. En hoe almal byname gehad het, party wat mens presies weet van wie daar gepraat word. Soos ou Piet Swaaibal (seker na sy golf “swing” verwys…), Piet Takkies en Piet Wyn en Piet Skap. En ou Miem Tête wat by die swembad gewerk het. En Ma kon nie meer enige van hierdie mense onthou nie, maar soos ons gery het en ek hulle name noem het ons ons gatte af gelag.
En ou Daantjie Skoenmaker wat as kind polio gehad het en vreeslik sleg geloop het. Hy het altyd tussen ’n berg skoene gesit en werk. En as mens jou skoene gaan haal dan weet hy presies watter paar joune is, sonder dat mens ’n strokie moet ingee. En Ma het altyd sy loop nagemaak vir Tannie Hankies dan lê ons soos ons lag. En dan het Ma gesê ”ooo die Here gaan my nog straf”. En in later jare as Ma se bene so seer is van die arthritis het Ma gesê ”ja sien dit kom van spot met ou Daantjie Skoenmaker”.
Ek onthou hoe baie keer as ek en Ma en Ouma Bettie langpad ry ons moes aftrek van die pad want ons lag so ons kan nie in die pad sien nie. En ja, dit was altyd oor ander mense. Waaroor anders kon mens nou juis lag? En ons het darem vir ons self ook baie gelag. Ma het altyd gesê dit is ons behoud dat ons vir ons self kan lag.
Die honde hou baie van die nuwe bank op die stoep. Hulle lê nou hoog wat beteken hulle kan oor die reëling in die straat sien. En ja Ma, ek het ’n lap oorgegooi dat hulle nie die nuwe ding vuil maak nie. Een van daai laslap lappe wat eers oor die banke in die sitkamer was. En ek het vir hulle Ouma Bettie se klein voetstoel bankie daar gesit dat Frikkie en Frummel self kan opkloim. Maar jirre is hulle beskimmeld oor dié opklimplek. Wil natuurlik op getél word, so kom staan met ogies soos hartseer paddatjies voor mens dat jy hulle moet optel.
Ma sou die Duitsers se waarnemings waardeer het. “You-know-who” het soos gewoonlik weer die huishulp saamgebring vir die vakansie. Antonette moes vra dat sy haar gordyne se hakie moet terugsit want die gordyn hang so sonder ’n hakkie en Ma weet mos hoe so iets ons kan irriteer. Hoeka sê Antonette sy sal sommer hier in ons huis ’n gordyn hakie kry vir haar. Not a damn! Daar kry sy nie ‘n hakie nie – ek wou vir haar sê as Ma nou hier was was jy in groot moeilikheid want dan sou sy weet wat jy alles weggegooi het…. Anyway die vrou kry toe self ’n hakie en haak die gordyn in en nou lyk dit beter. Die venster is mos reg hier in ons gesig. Elk geval, gister staan die Duitsers en ek in die kombuis en gesels en Timo sê ”kan dit waar wees dat die huishulp die kinders se skoene wat vol sand is vir hulle skoonmaak?” Ek sê vir hom daar sien hy nou ’n lekker stukkie Suid Afrika van hoe dinge hier werk.
Hier is nou een moerse gekletter, enjins wat raas en ek sien almal klim skielik in hulle karre en ry. Dis natuurlik die rubberducks wat op pad is Aghulas toe. Groot opwinding. Ek wonder hoe nat en verkluim hulls is. Nou ja Ma so kan ons sit en gesels tot middagete, maar ek gaan nou eers koffie maak.