Skip to content

1 Januarie 2024

1 Januarie 2024

Ai Ma, dis ons laaste stoepsit, ek moet vandag weer terug Kaap toe. Dis ‘n lieflike oop blouhemel dag, die honde is nou uit vir ‘n pie. Dis net voor sewe. Die son skyn lekker hier op die stoep, maar daar is ‘n koel liggie wat van die see af trek. Ek het dit nie gemaak om tot twaalfuur wakker te bly nie, die Duitsers het op die stoep gesit en lag dat jy hulle sekerlik tot oorkant op Infanta kon hoor. Ek het Ma se frikadelle vir hulle gemaak vir oujaarsete – kyk die mense kan eet. En om van drink nie te praat nie….Ma sou baie skaam gewees het as ons al die leë drankbottels met die vullislorrie moes laat wegry. Maar gelukkig neem Markus dit plaas toe terug vir sy recycling masjien wat sy Pa vir hom uit Duitsland uit gebring het. So Ma is dit darem gespaar…

Die duin lyk ‘n paar sentimeter platter getrap van almal se geklim en klouter op hom. Ma sou sê dis soos om te sit en tv kyk hier op die stoep. Ons het altyd so gelag vir al wat leef en beef wat duin op – dik en dun en groot en klein. Gister het Mara gou kom inloer – weet Ma dat sy nie geweet het Ma is dood nie. Ai. Ek en sy het sonder woorde net vir mekaar staan en kyk terwyl ek frikadelle rol. Wat sê mens dan nou ook. Ek het vir haar Ma se as op die sideboard gewys en vir haar een van Ma se begrafnisbriefies gegee. Sy lyk mooi, haar hare is nie meer gekleur nie en lyk baie mooi so grys. Iemand het ‘n groot boomtak op die duin geplant – ek onthou hoe ontsteld Ma was toe hulle een jaar met Kersfees ‘n kruis op die duin geplant het en die ding aan die brand gesteek het.

Elizabeth kom nie huis skoonmaak nie want dis mos ‘n vakansiedag. Ma sal bly wees om te weet dat Markus gister die stofsuier gegryp het om al die honde hare op te suig. Hy het omtrent gekletter daar bo. Jojo verloor vreeslik hare al word hy elke dag geborsel. So kom Markus seker na ‘n uur af en sê hy verstaan nie hoekom die stofsuier die hare voor insuig en agter uit blaas nie. Natuurlik het hy nie die ding se sak ingesit nie – die hang oor die mop in die waskamer waar Elizabeth hom seker gewas het en gehang het om droog te word. Die Duister was nie interpressed soos Aldo kleintyd gesê het nie. Toé begin hy eers met mening stofsuig. Wel vandag gaan hulle dit weer moet doen. Ma moenie worry oor die wit goed nie, ek sal dit by Leon se laundry laat was want die water is nog steeds net so bruin.

Ek het ook ‘n lekker brood gebak met olywe en sondroog tamaties. Francois het toe al die tyd ‘n groot bos roosmaryn, ek het daar gaan leen en toe vir hom en Danita en Ruan ook ‘n brood gebak. Hulle pas kleinkinders op – klein Francois en sy vrou is weg vir ‘n paar dae na die skoonouers en Francois en Danita pas kleinkinders op. Ma sou sê dankie jirre ek is dit gespaar. Ek dink Ma sou ‘n wonderlike Ouma gewees het. Kleinkinders in die aarde in bederf het as jy my vra.

Buurvrou is nou net hier uit om te gaan draf. Ek hoor Ma al sê plaas sy maak haar eie blêddie huis skoon vir oefening nou hardloop sy soos ‘n mal mens Vondeling toe terwyl die arme huishulp alles moet doen. Dié werk van sonsopkoms tot sonsondergang terwyl die mies draf. En ek sou vir Ma moes sê sjoes Ma moenie so hard praat nie die mense hoor Ma, want vroegoggend op die stoep het Ma nog nie die gehoorapparaat in nie en Ma weet klank trek ver. En Ma sou tien teen een sê ek wil hê sy moet my hoor! Die grênd mense, mens sou dink hulle weet van beter. Ek onthou hoe kwaad die ouman Pa gemaak het as hy die paving afspuit met die hosepipe elke keer as hulle net aanland, en dit is kwaai waterbeperking hier. Een jaar het Pa sy hosepipe gevat en dit in Francoise se garage toegesluit. Dié oggend op die stoep soek die ouman hoog en laag, ons sit almal op die stoep en Pa hou hom blou. Maar ek het dadelik geweet wat aangaan – Pa het nooit vir Ma die storie vertel nie want hy sou op sy hel gekry het.

Ma moenie worry oor die huis nie – ek weet noual die preek wat ek sou kry oor hoe ons ordentlik moet skoonmaak en nie Ma se naam moet laat val nie. Ek sien hier is net ‘n slierte mop – ek weet nie wat het geword van die groen Verimark sponsmop nie. Seker gebreek. Jy weet mos hoe dit gaan. Ek sal sorg dat ons weer een kry want dié klomp teëls kom nie skoon met ‘n sliertemop nie. En ek sal met Thomas praat oor die lekplek. En ons sal moet laat pomp – gisteraand sit en beskuldig die Duitsers mekaar van wie poep so? Heeltyd dink een die ander een poep. Toe kry arme Jojo en die worse later die skuld want almal pleit onskuldig. Ek lag toe lekker toe ek besef die drein loop oor. En ja ek het gesê hulle moenie die krane so laat loop nie. Maar dit was baie mense. Dit loop nou oor die straat uit – netsowel die ouman is nie hier nie want hy kon tog so ‘n kleintjie kry oor die tenk wat oorloop. En Ma het altyd gesê laat pomp tog die tenk voor die ouman iets oorkom. Hulle grênd mense skeit mos nie.

Ai Ma. Dit was so lekker om met Ma te sit en nonsens praat hier op die stoep. Ek gaan dit mis. Ek mis Ma, al voel dit die hele tyd of Ma hier is, want alles in die huis het ‘n storie van Ma. Alles wat ek doen is Ma ook saam doenig, hoor ek Ma se stem. “Wat soek jy in daai laai? Nee, daai ding hoort nie in daai laai nie, sit hom op sy regte plek. Moenie daai skêr gebruik vir daai goed nie, gebruik die bloue. Nee Rayne, daai lap is nie gemaak vir vloer afvee nie. Maak vir ons dan ‘n bietjie tee man? Ek hou van myne sterk, en maak die koppie hoogvol hoor.” Mens sou sweer dis die eerste keer wat ek vir Ma tee maak – ek doen dit al vandat ek tien jaar oud is. “Ja maar dis omdat jy lekker tee maak soos ek jou geleer het”. Ek doen. Maak eers die teepot warm, dan ‘n sakkie vir elke teedrinker en een vir die pot. En dan die pot nie té vol maak nie, die teemus wat Ma gebrei het op en laat dit lekker trek. En tog melk eerste anders is die tee koud. En een sakkie suiker, al het al duisend maal vir Ma gesê hoe ongesond die sakkies is…

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *